1 reviews | Active since Sept 2025
I did not hear anyfeedback as it is 2 weeks later
Geagte OUTsurance-span,
Ek skryf hierdie e-pos om my uiterste teleurstelling uit te spreek oor die diens wat ek onlangs ontvang het toe my voertuig by julle aanbevole herstelplek was.
Eerstens het ek, op my eie koste, Alberton toe gery vir ’n assessering, en daarna weer Vereeniging toe om my voertuig by die herstelplek van julle keuse in te gee. Ten spyte hiervan moes ek steeds ’n bybetaling van R5 865 maak. Ek aanvaar die bybetaling as deel van my polis-ooreenkoms, maar ek verstaan nie waarom ek boonop vir weke sonder ’n voertuig moes wees nie. Ek was vir langer as drie weke sonder my motor, en gedurende dié tyd moes ek self plan maak om werk toe en terug te kom – dit terwyl ek steeds my premie betaal.
Toe ek ná twee weke my voertuig gaan besigtig, het ek opgemerk dat die linker passasiersvenster vervang is met ’n ander een, en dat daar duidelike krapmerke op die agterruit onder die ruitveër is. Verder is my stuurwiel skeef teruggesit en die venster aan die linkerkant voor wys steeds krappe deur die tinting. Ek het ook uitdruklik versoek dat ’n assessor saam met my uitgaan op die dag dat ek my kar sou afhaal, maar ek wag steeds vir ’n terugbel.
Ek het gister weer na Vereeniging gery om my motor terug te neem weens die onafgehandelde werk. Ek is intussen ’n Polo gegee om mee te ry en is meegedeel dat dit 3–5 dae gaan neem om die herstelwerk te voltooi.
Ek vind dit onaanvaarbaar dat ek as kliënt self die herstelproses moet opvolg en agter die herstelplek aan moet sit. Ek het OUTsurance gekies omdat ek geglo het ek sou kwaliteit diens en ondersteuning ontvang, veral by ’n herstelplek wat deur julle aanbeveel is. Hierdie situasie laat my egter voel asof ek nie waarde kry vir die premie wat ek getrou betaal nie.
Ek vra dat hierdie saak dringend opgevolg word en dat daar aan my terugvoer gegee word oor hoe OUTsurance beplan om hierdie situasie reg te stel. Ek glo nie dit is hoe ’n kliënt behoort behandel te word nie.
Ek sien uit daarna om van julle te hoor.
Vriendelike groete, Lee-Schante ***
